Sussies Lelanie & Liesl se Camino Ervaring

Sussies Lelanie & Liesl se Camino Ervaring

Op 8 April 2022 het ek en my sussie, Lani uiteindelik vertrek op ons Portuguese Camino waaraan ons al beplan sedert 2019

Wat ‘n ongelooflike ervaring was dit!!!  Ons het van die begin besluit om alleen te stap; omdat ons die tog op ons eie tyd, spoed en tempo wou aanpak.  Jy moet jou stap maatjie reg kies en mekaar baie goed ken en verstaan.  Ons sussies het vir lang ente lekker gelag en gesels; maar met die heuwels en opdraende het ons vir mekaar gesê ons gaan bietjie stil wees vir ‘n kort rukkie om asems te spaar.

Ons aanvanklike plan vir 2020 was om in Porto te begin, maar kon nie realiseer aangesien Portugal nog teen April 2022 gesluit was vir toeriste. Ons toer skop dus in Madrid af en Yolandi het ons reëlings flink aangepas.  Vandag is ons eintlik baie dankbaar dat dinge so uitgewerk het, want Madrid was ‘n belewenis!  Ons eerste aand skop af met ‘n Flamenco opvoering – regtig hoogs aan te beveel!

Dag twee sluit ‘n toer na Tolede met lekker klein toer groepie en wonderlike Engelssprekende gids. As jy die geleentheid kry om dit te doen, dis verseker ‘n moet.  Na ons 2 dae in Madrid vertrek ons na Tui per trein. Hier moet jy nogal mooi kophou, omdat die taal-beperkings ‘n taamlike ‘spanner’ in die wiel kan gooi.  Ons het eers op ‘n verkeerde trein geklim en in die teenoorgestelde rigting gery as wat ons moes; maar darem so 3 stoppe later ons fout agtergekom en toe op die regte trein geklim – LOL!!  Aangekom in Tui het ons taxi bestuurder ons per ongeluk by die verkeerde hotel afgelaai, en ons moes deur die strate van Tui stap met ons tasse agterna om ons regte hotel te kry.  Ons het gelukkig albei ‘n goeie sin vir humor; so ons het lekker gelag vir die camino opwarming wat ons so onverwags gekry het!

Tui is waarlik een van die mooiste dorpies wat ons nog gesien het en indien tyd dit sou toe laat sal ons aanbeveel om eers ‘n volle dag of twee hier te spandeer voor jy begin stap.

ROETE

Die Portuguese roete neem jou deur die pragtigste woude, paaie en straatjies.  Die roete is so veilig en ons het nooit bang gevoel nie. Die roete handleiding wat ons vooraf van Yolandi ontvang het, het alles so maklik gemaak en dit was lekker om vooraf te weet wat om te verwag.  Yolandi se reëlings t.o.v. ons tasse wat elke dag vervoer is na die volgende hotel was perfek en het alles soveel makliker gemaak.

Die eerste dag se stap vanaf Tui na Porrino was lekker vinnig en maklik; en ons het al 12 uur ons eerste glas wyn gedrink in Porrino.  Maar moenie geflous word nie – die tweede dag vanaf Porrino na Arcade is omtrent ‘n uitdaging!  Dit is wat die Camino so ongelooflik lekker maak.  Geen twee dae is dieselfde nie.  Die terrein is elke dag verskillend, die dorpies is elke keer iets anders om te beleef en die persoonlike uitdaging om deur te druk al is jy hoe moeg laat jou met die beste gevoel ooit wanneer jy by jou bestemming aankom.  Ons gunsteling dorpie was Pontevedra, dit is so mooi, jy wil net langer bly.  Met ons aankoms in Calas del Reis was ons regtig moeg en ons lywe erg seer.  Ons hotel het ‘n baie oulike spa gehad waar ons besluit het om hulle Camino Rejuvenation pakket te doen.  Vir slegs 17 euro sal ek dit vir elke stapper aanbeveel.  Dit is ‘n taamlike kort behandeling; maar jy voel soos ‘n nuwe mens wanneer jy daar uitstap.  As ek wel enige raad aan toekomstige stappers kan gee – maak seker jou tekkies is goed ingestap (ons het sommer met gewone tekkies gestap en dit het perfek gewerk) en oefen maar voor die tyd.  Jy kan nie hierdie tog aanpak as jy nie ten minste matig stap-fiks is nie.  Ons het gelukkig lank voor die tyd sommer in die buurt rondgestap en so af en toe ‘n ‘hike’ op ‘n wynplaas roete gedoen, en was baie dankbaar vir die voorbereiding en “muscle memory” opgedoen.  Ons het ook elke oggend Slow-Mag gedrink en saans ‘n spier-verslappertjie; wat baie gehelp het. Die Camino is baie sielkundig en jy besef dit eers regtig teen die 3de dag.  Jy gaan moeg raak, seer raak en hier en daar moedeloos raak; maar dit is uit en uit die moeite werd.  Daar is geen beter gevoel as om uiteindelik jou Compostela in Santiago te kry nie.  Yolandi het vir ons ‘n toer na Finnisterre gereel van Santiago, en dit is verseker iets om op jou ‘moet doen lysie’ te sit!  Ons het 2 dae in Santiago spandeer en toe na Barcelona vertrek vir so 5 dae van net toeris-toeris speel en Barcelona behoorlik te verken.

GASVRYHEID

Die inwoners van Spanje is regtig baie vriendelike mense en almal is so positief as hulle hoor jy is van Suid-Afrika.  In Madrid en in die klein dorpies is die taal beperkings nogal ‘n uitdaging; maar ons het gou ‘n paar basiese sinne baas geraak en kon ons self mooi help teen die einde.  Werk maar deur Yolandi se Spanish Survival guide vooraf; dit help verseker baie!  Die grootste uitdaging wat ons ervaar het in die klein dorpies is die feit dat hul restaurante toe maak vir siesta vanaf 15:00 tot omtrent 20:00 / 21:00 die aand.  As jy dus 3 uur in ‘n dorpie aankom en honger is; gaan jy moet sorg vir genoeg peuselhappies om jou te hou tot laat vanaand of eet verkieslik ietsie by een van die stoppe op die roete.  Dit kan ook nogal ‘n gesukkel wees om ‘n beskikbare tafel te kry by ‘n restaurant saans omdat almal vol is.  Ons het vinnig geleer om die eerste oop tafel te gryp, jy wag nie vir ‘n kelner om vir jou ‘n tafel aan te bied nie – LOL!  Ons het die kos verskriklik geniet en verlang nou nog terug na hul krokette en Albarinho wyn.

Om mee af te sluit: Yolandi en Marina was absoluut fantasties deur hierdie hele proses. Alles het seepglad verloop. Ons het terug gekeer met die wonderlikste herrinneringe wat ons vir ewig sal koester.  Ons band as sussies was nog altyd sterker as staal, maar om die Camino saam te stap het dit net nog sterker gemaak.

TIP: Ons het absolute wonderlike mede-pelgrims ontmoet; maar was so gefokus op ons stap dat dit ons ontgaan het om kontak besonderhede uit te deel.  Ons is nou spyt daaroor; so as jy iemand ontmoet en ‘n aanklank vind – ruil besonderhede uit; dit sal so lekker wees om na die tyd kontak te behou.  Yolandi is altyd net ‘n whatsapp ver; en sy het ons heeltyd bygestaan en ingeloer om te hoor of ons nog okay is; die bystand en bemoediging is fantasties! 

Die tyd vlieg so vinnig verby – geniet elke oomblik van jou Camino en neem soveel fotos as wat jy moontlik kan!!  Daar is regtig geen beter manier om die wêreld te sien en nuwe kulture te ervaar nie.  Ons beplan al reeds aan ons volgende een; die gogga byt hard!

No Comments

Post a Comment