Erns Grundling het in Julie ‘n groep van 16 pelgrims vanaf Ponferrada na Santiago de Compostela begelei.
Erns vertel…
Toe ek my eerste Camino alleen gestap het in 2015, sou ek nooit kon droom dat ek ‘n paar jaar later sou terugkeer saam met ‘n groep nie. Maar die lewe is mos maar ‘n misterieuse gedoente. In Julie 2022, nadat die Covid-19 pandemie twee vorige pogings gepootjie het, het ek na Madrid gevlieg en met ‘n bus na Ponferrada gereis saam met sestien wonderlike Suid-Afrikaners – almal op pad na hulle eerste Camino. Dit was betowerend om terug te wees op hierdie antieke pelgrimstog en om die geel pyle vir elf dae en 214 km te kon volg: Van Ponferrada – die stad met sy indrukwekkende Tempeliere-kasteel – tot by die manjifieke katedraal in Santiago de Compostela, wat terloops vir die eerste keer in jare geen steierwerk by die vooraansig het nie.
Ek het van meet af met die groep ooreengekom: In die dag stap elkeen teen sy of haar eie pas, met geen druk op enige iemand om saam-saam te stap nie. Ek glo vas in die gedagte “die Camino voorsien” en dat die pelgrimstog vir elke persoon presies dit bied wat hy of sy moet ervaar. En dit kry jy slegs as jy die Camino op jou eie terme aanpak. In die aande het ons opsionele gesamentlike etes gehad by restaurante naby ons hotelle en dit was heerlik om dan as ‘n groep saam te kuier, te klankbord en mekaar se geselskap te geniet. Ek het ‘n liewe vriendin, Amanda de Klerk, se nuwe boek, “Arrows of Awareness”, gebruik as ‘n gids om meer bewustelik te stap én te leef, en die groep het dit baie betekenisvol gevind om elke oggend met ‘n spesifieke gedagte en aanhaling in die pad te val.
Ek het soveel kosbare herinneringe van my eerste Camino saam met ‘n groep: Hartlike gesprekke, verskeie lagbuie, emmersvol sweet tydens die intense hittegolf wat regoor Spanje gewoed het, pragtige en bewustelike oomblikke langs die pad, en natuurlik yskoue cerveza (bier) en liplek-lekker tortilla de patatas (omelet met aartappel)! ‘n Groot dankie vir Yolandi en haar Spaanse vennote vir die uitstekende logistiek, puik verblyf reg langs die Camino, knap bagasievervoer en 24/7 beskikbaarheid op WhatsApp – dit het ‘n enorme verskil gemaak. En ‘n hartlike dankie vir elkeen van die sestien Suid-Afrikaners wat die geel pyle saam met my gevolg het. Julle het soveel betekenis en vreugde na my derde Camino gebring. In die woorde van die Persiese digter Rumi, wat ek aangehaal het uit Amanda se boek: “We are all just walking each other home.” Kom ons maak weer so in 2023!
No Comments